Sunday, September 9, 2012

Liefde...

Ek het gelees dat 'liefde' 'n werkwoord is. Dat dit eintlik nie net 'n gevoel is nie...

Dis seker hoekom soveel huwelike en vriendskappe opbreek deesdae, want mense wil nie die 'liefde' werk meer doen nie. Daars nie tyd vir mense nie, mense deel nie meer wat in hul diepste binneste worstel en kook nie. Dat jy voel asof jy pla as jy graag met daardie persoon/e wil praat, dinge wil deel. Dat 'n mens die pot mis sit as jy dink jy ken iemand, en dan voel dit asof jou 'liefde' werk net vir niks was nie.

Ek dink deesdae baie aan oud word en dood gaan. Daar is absoluut niks wat 'n mens aan enig van die twee kan doen nie. Altwee hierdie dinge is so finaal. Dis seker ook waar die 'liefde' as werkwoord inkom. Wie gaan saam met jou hierdie pad, wat Jesus vir ons gegee het, stap? Dan is die antwoord seker die mense wat jou liefhet en liefde gee, en vir wie ek self sal probeer berge versit?

Dan is daar die lag en huil. Ek weet nie eintlik watter een van die twee ek 'voel' nie, maar ek is bang as ek gaan los trek met een van die twee, dat ek dit gaan doen sonder ophou, want dis soos 'n histerie wat binne-in my vassit. Trane maak niks reg nie, maar ek dink daai kant wen so net-net.

Ek wil nou nie he dat iemand my moet 'Jannie-Jammer-Gat' nie, maar ek is eintlik 'n vieslike persoon, weet jy? Dis maar net hoe ek dit sien. My 'liefde' as werkwoord is lank al opgedroog en ek dink 'the damage is done'. En eintlik het ek so vreeslik baie van altwee 'liefdes' binne-in my om te gee!

Here, help my asseblief met 'n bietjie reen op my uitgedroogte liefde en 'liefde'? Ek wil nie die mense vir wie ek lief het verloor omdat my 'liefde-werkwoord' so min is nie? Amen...

Die vraag sal altyd bly: Is dit te laat?


Sent from my BlackBerry® wireless device

No comments:

Post a Comment